Eugene het my noual so getorring om die blog ge-update te kry!!!! Hy se dat ek "my aanhangers teleurstel"! hehe, so aanhangers: ek is terug!
Ek en eugene het hierdie jaar besluit dat ons bietjie Griekeland toe wil gaan vir somervakansie, eugene wou nog altyd soontoe gaan vir die lekker weer en mooi see, en ek, ek wil graag ook mamma mia op 'n hawemuur sing!!!!! so met die hulp van ons half-griek/half-afrikaanse vriendin, is ons toe twee weke terug op ons vlug na Athens! My tas 'n so groot, dit sal my 'n jaarlank van klere, sunscreen en aftersun kan voorsien indien ek dalk op een van die minder bekende eiland gestrand sou word, maar ek worry nie, want eugene se tas is NET so groot!!!!! hehehe! Ek hoop in my hart dat mens nie nog vanaf die hawe met donkies moet ry tot in die dorp, soos my ma-hulle moes toe hul daar was nie, want my arme donkie se beentjies sal buckle soos 'n gebreekte strykplank!
Ons land veilig in Athens en vinnig vinnig is ons op die bus oppad na ons hotel. My eerste indrukke: Dankie TOG ek leer frans en nie Grieks nie, ek meen, Grieks is immers...grieks, en met 'n alfabet wat lyk soos geheimeskrif het ons nie geweet watter busstasie is watter busstasie nie! Al wat ek weet is ons moet afklim by Cholargou (op my engelse straat kaart) maar EK weet nie hoe spel mens dit in Grieks nie!?! Gelukkig praat meeste Grieke engels en het ons vriendelike bus bestuurder ons maar gehelp. (mens spel cholargou soos volg: X, O, ondersteboV, A, P, onderstebo L, O, Y - go figure)
Ons was twee dae in Athens, baie warm! en bietjie gaan rondloop by al die ou "ruins", amazing om te dink dis gebou in die tyd van die nuwe testament en vroeer! By die acropolis het ons op die koppie gestaan waar Paulus gepreek het, so amazing!
Na Athens het ons die Ferrie gevat na ons eerste eiland Milos. Nou ekke het 'n HEEL verkeerde idee gehad van 'n Ferrie! Die enigste ferrie wat ek nog ooit op was was 'n Flot op die breerivier, waarop jy jou kar parkeer en dan trek die ouens met toue jou oor die Rivier, vir R8. Maar nee, nee, nee, HIERDIE ferrie was 'n Meneer van 'n boot!!!!! of nee, 'n SKIP! Wat 'n verrassing! Daar is winkels en kafeterias op hom en als! Hul het saam met die 1000de mense, 4 lorries, 5bakkies en maklik 50karre ook opgelaai! ek was heavy impressed! Dit het ons 4 volle ure gevat om by Milos uit te kom, en ons het die vinnige ferrie gevat! Die ander een vat 7ure. Ons boot se naam was....wait for it....speedrunner2!!!
Ai maar wat 'n site toe ons by MILOS stop!!!!! dit was die volle 4ure se wag werd, die son het begin sak oor die see, die wit huisies teen die heuwels, dit was pragtig.
Ons het vinnig gaan inboek en toe dadelik 'n plek gaan soek wat scooters-verhuur (eugene praat al die afgelope 4weke oor 'n scooter huur en kan nie 'n oomblik langer wag nie). Ongelukkig verhuur hul nie meer scooters as jy nie 'n lisensie vir een het nie (hul het tot laasjaar nie 'n probleem gehad nie) en moes ons tevrede wees met 'n Quad-bike. (aan die begin was eugene bietjie teleurgesteld, maar toe hy besef dat Milos baie grondpaaie en offroad plekke het, was hy baie happy, ek minder happy)
Ons vat die eerste pad uit die hawe uit en ry al langs die see af, toe sien eugene 'n grond paaidjie wat afdraai oor 'n bultjie see se kant toe en toe MOES ons natuurlik die bike "offroad" vat! My senuwees was aan flardes, maar ek klou soos 'n neet aan sy rug vas, 'n paar skrape later van bosse en takke stop ons by 'n pragtige strand, alleen. Ek weet nie of dit die adrenalien was van die offroad ry nie, en of dit opgehoopte energie was na 4ure op speedrunner nie en of dit net die dankbaarheid was dat ek nie my nek gebreek het by die pad af na die see toe nie, maar ek en eugene "strip" poedelnakend kaal en vang ons eerste swem in griekeland!!!!
Milos is nie so vol toeriste soos van die ander eilande nie, daar is alles nog goedkoop en min mense praat engels (gelukkig na 'n jaar in Frankryk is ek en Eugene EXPERTS in bodylanguage) dit lyk soos wat die griekse eilande op poskaarte moet lyk, oral sit locals en geniet 'n glasie Ouzo ('n griekse drankie wat mens drink wanneer die son sak saam met 'n bord seekos vingerhappies, jy nibble en drink daaraan tot 10uur, dit is wanneer grieke eers hul aandete begin bestel! Ouzo proe na liquerice/anys, maar is nie baie sterk nie, baie lekker) en die KOS!!!
Ek moet 'n apparte paragraaf skryf oor Griekse kos! Dit is iets om te beleef! Hulle kos is ongelooflik lekker, allles is vars en smaakvol en ons het nie een keer in ons hele twee weke daar een slegte maaltyd gehad nie! Hul spesialiteit is natuurlik Griekse slaai, wat ek BELOWE beter smaak as enige slaai wat ek nog in my lewe geeet het! ons het Elke aand vir 2weke 'n Griekse slaai geeet vir voorgereg en ek jok nie. En eugene
Ander lekker dingetjies waaroor ons liries geraak het was hul, grilled haloumi (kaas), cheese saganaki (kaas in 'n degie gebraai op tamatieringe) en gevulde gebakte tamaties. En wat so lekker was is dat al die chefs in die restaurantjies gewoonlik so 'n ou tannie is wat daar staan en alles vars voorberei terwyl haar man voor by 'n tafeltjie sit en Ouzo drink en kliente verwelkom, dit voel so "homey".
Die tweede dag op milos is ek en eugene seetoe, sunscreen gesmeer so wit soos 'n roomkoek, op ons bike bestudeer ons die kaart van Milos en kies 'n strand (hoe lekker is dit?! jy kan jou strand kies uit omtrent 20 ander en nie een is verder as 15min nie!)
Die res van ons dae op Milos het bestaan uit nuwe strande gaan ontdek en die klein dorpies besoek.
Eugene het vir ons die derde dag paddavoete, duikbrille en snorkels en 'n onderwaterkamera gekoop en toe is ons twee roomkoeke weer oppad seetoe! Eugene, die spiertier wat hy is, sink soos 'n klip in die see en dis maklik om van hom fotos te neem onderwater, maar ekke, sukkel my vrek om onder te bly! al die fotos wat ons geneem het, is my boude in die lug soos 'n tjoop!!!!
HEELTEMAL te vinnig het ons tydjie op Milos tot 'n einde gekom! Die laaste oggend word ek wakker met 'n lekker waterpokkie-agtige-uitslag oor my gesig en arms, kom toe daarop neer dat allergies is vir my aftersun. Dit is nou nadat ek die vorige dag my winduit geval het in die hoofstraat toe ek 'n trappie misgetrap het! hehe, shame, 'n ou visserman en 'n toeris het kom kyk of ek okey was. Maar behalwe vir die gejeuk en gekrap en 'n nerf-af knie, was ons tydjie op Milos die beste vakansie van my lewe.
Na nog 'n lang trippie op die ferrie land ons op die hawe van Santorini. 'n Pragtige eiland in 'n semi halfmaan vorm met 'n vulkaan in die middel van die halfmaan!
Santorini is pragtig, maar defnitief meer toeriste as Milos, alles is duurder, besiger. Die strande is iets om te beleef! Daar is strande met swart sand weens die vulkaniese aktiwiteite lank gelede. Ek en eugene moes net dit gaan beleef.
Die winkels in santorini maak eers 3uur toe in die aande, so almal le by die see rond deur die dag en in die aand loop almal rond en bekyk die winkeltjies. Die vakansiegangers kom van al om die wereld, maar dit wil voorkom of die oosterlinge veral mal is oor Santorini, in die tyd wat ons daar was het ons 3 Oosterlinge gesien trou, met kaal voetjies en skulpies om die nek en die hele strand-ding. Die vakansiegangers is ook almal verskillende kleure van rooi (gebrand, jy sien, want almal WIL met 'n tan huistoe gaan)! Jy kry die bloedrooies, die perses, die rooi-met-afdop, die vars gebrande rooi, kreefrooi, tamatierooi, leeragtig-en-rooi, die lys gaan aan! Jy kry die met 'n bolyf tan, met 'n cleavage tan, voor-tan met so 'n duidelike lynlangs die kante, kuit tan, strepe getan en dan my ultimate favourite: die sonbril tan!!!!!
Ons het 3dae gebly op Santorini en heeltemal te gou moes ons weer die ferrie vang na Mykonos. Ons het net betyds daar aangekom vir die sonsondergang, en toe sommer vir 'n stappie in die dorp gegaan!
Weereens dadelik af om 'n bike te gaan soek, die keer is eugene gedetermineerd om vir ons 'n beter quadbike te kry! Maar alas! Mykonos het NOG strenger reels en ons eindig op met die sterkste engin wat hul toelaat: 'n 50cc!!!!!! Eugene was super imbarressed! Ons kry nie eers 10km/uur by bulte op nie, hy maak meer geraas as krag! Oumense STAP vinniger as ons by bulte op! EN dan forseer die wet ons om helmets te dra!!!
Omtrent al die strande in Mykonos kan gesien word as "nudist beaches", daar is altyd 'n stukkie strand waar almal kaal is en kaal swem en kaal rondloop. Ek is baie dankbaar ons suid-afrikaners is nie so liberaal nie, dit lyk net verkeerd.
Maar behalwe ons "bikey'tjie", was die tyd op Mykonos onvergeetlik lekker. Ons het regtig vakansie luiheid tot 'n whole new level gevat! Oggende 9uur opgestaan, ontbyt gaan eet, see toe gegaan, getan en swem tot 1uur, middagete gaan eet, 3uur terug hotel toe, middagslapie gaan vat tot 4uur, geswem in die swembad en dan uit gegaan vir aandete, rondgeloop in winkeltjies, terug hotel toe, boek gelees tot 1uur, en geslaap tot 9uur! Dit. was. Awesome!!!!!
En so het ons tyd op Mykonos ook tot einde gekom, maar natuurlik nie eers voordat ek weer 'n uitslag gekry het nie!!!!! Uitslag nommer2 was omdat ek allergies is vir een van die twee nuwe sunscreens wat ons die vorige dag gekoop het! ai. ek kon dit nie glo nie, weer 'n keer! Maar teen die tyd is ek al so ge"chill" van lekker vakansie hou dat ek nie eers omgee dat ek lyk soos die 10 melaatses nie! Wat 'n fantastiese vakansie, die weer, die water, die tan, die kos, alles, was net perfek.
En ek hoop baie baie hard dat eendag in die toekoms ons weer terug sal kan gaan. Ek het, immers, 'n stukkie grond in die hoofstraat van Milos met my naam op!!!!!